tshwane cape town pe durban london

Tuisblad
Engels


Ons Droom
Ons Passies
Ons Waardes
Feesdienste
Aanbidding
Wat ons glo
Kleingroepe
Word 'n vennoot
Kontak ons


DOXA DEO – ‘N VERHAAL VAN GENADE







Dit was met groot vrees en bewing, maar in opdrag van die Here, dat ek, Leana en ons twee kinders, Duncan en Amy, (toe onderskeidelik 5 en 3 jaar oud), in 1992, na Pretoria verhuis het. Die gemeente, destyds bekend as Corpus Christi, was in 'n verslae toestand en gebukkend onder 'n enorme skuldlas wat hulle selfs laat oorweeg het om die gemeente se deure te sluit. Ons was intens bewus van die feit, dat net God, ons in die situasie moes help. God was getrou en binne 2 jaar was die gemeente weer dinamies aan die gang en oor 'n 1000 mense het in ‘n baie kort tyd by die gemeente ingeskakel!


In 1994 het ek ‘n besonderse ervaring in my studeerkamer gehad toe die Here baie pertinent met my gepraat het oor ons verantwoordelikheid teenoor die stad van Pretoria. Dit word dieselfde aand by ‘n Gemeenteraadvergadering bevestig nadat die Gees van die Here op ‘n besondere wyse deur verskeie mense bevestig het dat ons ons visie, met die gemeente as fokus, moet verander na ‘n visie vir die stad, Pretoria. Ons het erns gemaak met die opdrag en ons het die Here vertrou om vir ons die strategiese prosesse te gee oor hoe Doxa Deo se stadsvisie moes realiseer. Die Here het Markus 6:30-44 gebruik om die drie kernbeginsels as bakens vir die strategiese proses binne Doxa Deo daar te stel:

BAKEN 1: ONS MOES BEWEEG VAN BESORGDHEID NA INNIGE MEEGEVOEL (FROM CONCERN TO COMPASSION).

Die dissipels het duidelik besorgdheid gehad oor die mense, maar die Bybel sê Jesus het innige meegevoel gehad. Besorgdheid raak nooit betrokke by die probleem nie - die dissipels wou die mense wegstuur. Jesus het egter gesê hulle moet self vir die mense kos gee. Ons het besef dat ons as ‘n gemeente die verantwoordelikheid moes opneem vir die transformasie van die stad.

BAKEN 2: ONS HET NODIG OM DIE STRATEGIESE PROSES TE DEFINIEER.

Jesus het hulle beveel om die 5000 manne in groepies van 100 en 50 te laat sit. Na 'n lang dag in die son was Jesus daarvan oortuig dat hulle eers die prosesse in plek moes kry om die mense moniteerbaar te kon bedien voordat hulle die brood en vis sou uitdeel. Net so het die Here ons gelei om verskeie kampusse reg oor die stad te vestig, maar wat nog steeds een gemeente vorm wat almal saam God vertrou om die stad te sien transformeer.

BAKEN 3: DIE BONATUURLIKE VOLG OP ONS TOEWYDING EN VERWAGTING.

Nadat die dissipels die mense in groepe verdeel het, het Jesus opgekyk, die brood en vis geseën en toe het die wonderwerk plaasgevind. Net so het ons oor die afgelope jare die een na die ander wonderwerk aanskou soos wat nuwe kampusse uitgerol het en nuwe ondersteunende bedieninge die lig gesien het wat die verskillende sfere van ons samelewing sou beïnvloed.

Ons het vinnig besef dat indien ons ons stad wou sien transformeer, ons moes betrokke raak by die 8 kern waardevormers van ons omgewing. Hierdie waardevormers het ons geïdentifiseer as die:

• Opvoedkundige wêreld
• Kunste wêreld
• Sake wêreld
• Kerkwêreld
• Sosiale Dienste en Opheffingswêreld
• Politieke wêreld
• Mediawêreld
• Sportwêreld

Om by hierdie arenas van invloed betrokke te raak is daar ‘n drieledige strategie geformuleer:

1. MOBILISERING – Dit sou behels dat ons die mense wat vennote van Doxa Deo is en wat in bogenoemde waardevormer areas betrokke is, sal mobiliseer om ‘n invloed in daardie sfere van die samelewing uit te oefen as Koninkrykambassadeurs.

2. STRATEGIESE INFILTRASIE – Doelgerigte strategie word beplan en bestuur vanuit die lokale kampus om spesifiek die 8 sfere te beïnvloed.

3. MODELLERING – ‘n Behoefte word geïdentifiseer en ‘n produk word ontwikkel om dit vanuit Doxa Deo as ‘n bediening aan die stad daar te stel, bv.

- Doxa Deo Privaatskool / Kollege (Opvoedkunde)
- OAC (Kunste)
- Doxa Deo Netwerk (Kerkwêreld)
- POPUP (Sosiale opheffing)

In 2002 het ons die jaar geproklameer as die Jaar Van Intimiteit. Ons het gefokus op die vier simbole waardeur die Heilige Gees in die Skrif geken word: Vuur, Water, Wind en Olie. Tydens die derde kwartaal met ons fokus op Wind, wat dui op die leiding van die Heilige Gees, het ons op die Here gewag spesifiek ten opsigte van Sy inspraak vir die volgende fase van Doxa Deo. Uit Markus 6 het 'n vierde beginsel (baken), duidelik met ons as ‘n bediening gepraat.

BAKEN 4: DIE UITREIK NA 12 STRATEGIESE STEDE IN DIE WÊRELD.

Nadat hulle klaar geëet het, het die mense 12 mandjies vol van die brokstukke van brood en vis opgetel. Hulle het dit gedoen sodat hulle dit kon vat na verskillende stede om daardie stede verder te seën met dit waarmee hulle geseën was. Ons het beleef dat die Here, gelyklopend met die uitbreiding binne die stad van Pretoria, ander stede met dieselfde strategie van stadstransformasie wou seën. Die stede sal onafhanklik van mekaar funksioneer, maar tog saam een internasionale familie vorm waar een droom gedeel word om hierdie stede te sien verander na 'n plek waar God regeer. Ons het reeds gevestig in Kaapstad, in Port Elizabeth en in London. Waar daar in die toekoms 'n amen in ons harte is oor ander stede, sal ons spanlede losmaak om in dieselfde geloof, wat die fondasie van hierdie bediening is, te gaan en die Here te vertrou vir soortgelyke impak in die ander stede.

Mag die Here ons genade gee om sensitief te wees vir Sy inspraak om sodoende te kan vervul die hoë roeping waartoe Hy ons as ‘n bediening geroep het. Mag die Heerlikheid van God die aarde vul en mag ons in Doxa Deo beleef hoe die Here ons gebruik om dit te laat realiseer.

ALAN PLATT

 
Kinders Tieners Studente Jong Volwassenes Kleingroep Sakelui
Manne Vroue Enkellopendes Seniors Versorging Opleiding

DoxaDeo.co.za © 2006