tshwane cape town pe durban london

Tuisblad
Engels


Ons Droom
Ons Passies
Ons Waardes
Feesdienste
Aanbidding
Wat ons glo
Kleingroepe
Word 'n vennoot
Kontak ons

IDENTITEIT

WAT ONS GLO

OOR GOD:

ONS GLO 'n ewige drie-enige God, Skepper, Onderhouer en Regeerder van die hele skepping; In Hom het alle dinge hul oorsprong, bestaan en toekoms;

ONS GLO in God die Vader, die Enigste Bron van Lewe, wat ons geskep het om in 'n kwaliteit verhouding met Hom te kan leef;

ONS GLO in Jesus Christus as die enigste Weg, Waarheid en die Lewe wat herstel bring in alle gebrokenheid van die skepping. Jesus Christus wat ter wille van die mens en Sy saligheid uit die hemel neergedaal en vlees geword het; wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het as volwaardig mens asook volwaardig God. Hy wat gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel, waar Hy aan die regterhand van die Vader sit as waarborg van ons verlossing en waar Hy vir ons voorspraak doen;








ONS GLO in die Heilige Gees, wat as Bekragtiger en Helper gestuur is wat ons toerus met krag vir ons dienswerk. Hy wat ons bemagtig om te kan bedien, met Sy gawes en leef met Sy vrug. Hy wat die wêreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Hy herinner ons aan die woorde van Jesus en lei ons in die hele waarheid; Hy bemagtig ons om die plan van God op aarde te verwesenlik.

OOR DIE MENS:

ONS GLO dat alle mense ongeag ras, geslag, taal of kultuur na die beeld van God geskape is, maar dat deur hul ongehoorsaamheid aan God hierdie beeld geskend is deur sonde. Die verlossingswerk van Jesus Christus aan die kruis behels restorasie, herstel en gesondmaking van die totale mens as ‘n belofte van God. Vir die verkondiging en bediening hiervan is die kerk die primêre agent op aarde.

ONS GLO dat Jesus Christus die Hoof van die Kerk is wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges. Dit is die daarstelling van 'n nuwe mens/skepsel, wat nou deel is van die familie van God, die Vader en gereed gemaak word as bruid vir Sy Seun, Jesus Christus. Daar rus ‘n roeping en mandaat op die kerk, op aarde, om die heerskappy van Jesus te proklameer en gestalte te gee op aarde. Die kerk vind sy primêre uitdrukking in die vennootskap van gelowiges wat 'n gemeente vorm, waar verantwoordelikheid vir mekaar en verantwoordbaarheid aan mekaar uitdrukking vind. OOR DIE WOORD EN

GELOOFSHANDELINGE:

ONS GLO dat die Bybel, beide die Ou Testament en die Nuwe Testament, die Woord van God is, wat God se plan vir die mens openbaar. Dit is geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees. Ons glo dat dit gesaghebbend die wil van God vir die mens verkondig en alles leer wat vir saligheid en die oorwinnigslewe hier op aarde nodig is; Openbaringskennis van die Bybel se inhoud word slegs verstaan deur die verheldering van die Heilige Gees.

ONS GLO in die doop van die gelowige deur onderdompeling as 'n stap van gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here, na die ervaring van wedergeboorte. Ons erken dat daar 'n geestelike misterie rondom die geloofshandeling van die doop bestaan waar ons gered word tot 'n rein gewete tot God.

ONS GLO aan die ervaring van die vervulling met die Heilige Gees, naas wedergeboorte, as 'n besonderse ervaring wat vir elke gelowige beskore is. Die primêre teken van die vervulling met die Heilige Gees is die spreke in vreemde tale wat die begeerte van elke gelowige behoort te wees.

ONS GLO in die gereelde deelname aan die Verbondsmaal waar die elemente van die brood en druiwesap simbolies is van die gebroke liggaam van Christus en Sy bloed wat gevloei het. Hierdeur bring ons in geloofsverwagting in herinnering die oorwinning van Sy kruisdood en verwelkom ons die implikasies daarvan in ons lewe, en deel ons in die voordele van die Nuwe verbond wat ons nou kan geniet.

OOR CHRISTELIKE STAND EN WANDEL:

ONS GLO in die toerusting van elke individu deur die bediening van die vyfvoudige gawes van Apostels, Profete, Evangeliste, Herders en Leraars ten einde elkeen in sy unieke skeppingsdoel te begelei en te laat groei tot geestelike volwassenheid. Ons moedig mense aan tot ‘n lewe van heiligmaking en toewyding waar hulle totale lewe onder die heerskappy van Jesus Christus funksioneer.

ONS GLO dat die openbaring en meegaande identifisering met ons stand in Christus die basis is van ons wandel in geloof. Ons wandel is nooit in stryd met die duidelike uitspraak van die Woord nie. Heiligmaking realiseer in die lewe van die gelowige deur ons identifikasie met Christus in Sy dood, opstanding en posisie van heerskappy wat hy nou bekleë; 'n daaglikse oorgawe van elke faset van ons lewens aan die inspraak van die Heilige Gees en die gesag van die Woord; aktief te kies om nie te konformeer tot die wêreld nie, maar deur 'n konstante transformasie van die vernuwing van denke anders te begin dink, praat en doen.

OOR DIE EWIGHEID:

ONS GLO dat, wanneer die tyd deur God bepaal, gekom het, Christus sal kom en sy Kerk sal kom haal om vir ewig by Hom te wees, waar ons as gelowiges bevry sal wees van elke aardse beperking. Ons wag op Christus se terugkoms, waar Hy, ons sal saamneem om met Hom, verenig te wees en te deel in ewige Hemelse heerlikheid. Daar kom 'n oordeelsdag, waarop Christus, die lewende en die dood sal oordeel met ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose.

 
Kinders Tieners Studente Jong Volwassenes Kleingroep Sakelui
Manne Vroue Enkellopendes Seniors Versorging Opleiding

DoxaDeo.co.za © 2006